Meer oor regspleging
Wie Ons Is
’n Groeiende regsprekende gesag binne ’n selfbeskikkende gemeenskap
Orania is gevestig met die ideaal om selfbeskikking vir Afrikaners te bereik. Hierdie ideaal is egter nie ’n verwyderde oomblik wat iewers in die toekoms mag realiseer nie, maar ’n deurlopende proses. Dit beteken dat Afrikaners reeds in Orania ontwikkelende selfbeskikking geniet.
Orania Regspleging het dan ook binne die konteks van ’n groeiende gemeenskap wat op ’n wettige en volhoubare wyse hul regmatige plek wil opneem ontstaan. Die oogmerk van Regspleging was van meet af die bevordering van ’n lewensruimte binne Orania waar inwoners veilig en voorspoedig kan leef, maar daarmee saam, ook die ontwikkeling en uitbou van ’n groeiende regsprekende gesag vir Oraniërs.
In ’n groeiende gemeenskap moet hulpbronne egter verantwoordelik bestuur word en word ’n proses van organiese en volhoubare groei van ons instellings gevolg. Orania Regspleging het derhalwe daarop gefokus om sorg te dra dat die bemiddeling van siviele geskille en die hantering van dissiplinêre aangeleenthede op die hoogste standaard geskied terwyl Regspleging stelselmatig aan die hand van beskikbare hulpbronne uitgebou word.
Orania Regspleging het as afdeling van Orania Aandeleblok (RF) (Edms.) Bpk. (OAB) ontstaan en waar inwoners met onderlinge geskille bygestaan is en dissiplinêre oortredings intern gehanteer is. ’n Funksionerende kantoor is binne OAB gevestig en met verloop van tyd uitgebou. Orania se groei het ingesluit dat verdere grondgebiede by die oorhoofse ideaal ingeskakel het en is die werksaamhede van Orania Regspleging uitgebrei om oor die geheel van Orania te strek. Die rol van Regspleging as die regsprekende gesag in Orania word dienooreenkomstig deur die Orania Verteenwoordigende Raad erken.
Vandag is Orania Regspleging ’n groeiende instelling van Orania met ’n Kantoor vir Regspleging wat vir die operasionele bestuur verantwoordelik is, ’n Regspaneel wat onafhanklik van die kantoor verkies word en ook sodanig funksioneer en die Orania Regsraad wat oorsigtelik en beleidmakend handel. Daar word deurlopend daaraan gewerk om Orania Regspleging, sodra die nodige hulpbronne daarvoor voorsiening maak, as ’n vereniging met eie strukture te vestig.
ORANIA
Regsraad
Die Orania Regsraad tree as die beleidmakende liggaam van Orania Regspleging op, terwyl die Regsraad ook die belangrike rol vervul om oorsigtelik te handel.
ORANIA
Regspaneel
Die Orania Regspaneel word vanuit die inwoners van Orania sodanige verkies dat hulle voldoen aan die vereistes van onafhanklikheid.
KANTOOR VIR
Regspleging
Die Kantoor vir Regspleging is verantwoordelik vir die operasionele bestuur van Orania Regspleging. Die kantoor bestaan uit ’n hoof, ’n bestuurder vir geskilbeslegting en aanklaer, asook ’n assistent.
Begronding
Orania Regspleging, diepliggend beskou, is nie nuut nie. Orania Regspleging vorm deel van die Westerse regstradisie wat oor geslagte en eeue heen ontwikkel het.
VOORUITSIG
vir Orania Regspleging
Orania Regspleging het vanuit die noodsaak om tot die groei en ontwikkeling van Orania by te dra ontstaan en lewer vandag ’n deurslaggewende diens in die handhawing van goeie publieke orde. Hiermee saam help Orania Regspleging inwoners van Orania in die fasilitering van geskille by wyse van mediasies en arbitrasies.
Orania Regspleging word deur die gemeenskap gefinansier. Vir hierdie rede het Regspleging organies en stelselmatig soos hulpbronne dit toelaat gegroei. ’n Werkende kantoor met breë deelname en ondersteuning vanuit die gemeenskap is gevestig en is Regspleging daartoe in staat om ’n groot omvang van geskille en dissiplinêre sake te bestuur.
In uitvoering van die doelwit om te werk aan groter selfbestuur, die verdere uitbou van ons instelling en die voortgesette lewering van ’n kwaliteit diens, word die volgende in die vooruitsig gestel:
Orania Regspleging werk reeds ’n geruime tydperk daaraan om as selfstandige instelling gevestig te word. Dit sluit in eie kantore en personeel wat onafhanklik van die Orania Verteenwoordigende Raad en grondgebiede funksioneer, maar onder toesig van ’n oorhoofse raad (die Orania Geregtelike Diensteraad) soos vanuit die Orania grondgebiede aangestel.
Met die oog op die vestiging van ’n eie instelling, is ’n konsep grondwet vir die daarstel van ’n vereniging deur die Orania grondgebiede saamgestel.
Hierdie vereniging wat as eie regspersoon optree, word deur die lede daarvan (Ornaia grondgebiede) befonds en ontvang ook regskrag vanaf sy lede om die regsdienste soos nodig te lewer.
Om hierdie vereniging ten volle te laat funksioneer gaan egter befondsing vereis wat nie op hierdie stadium ten volle beskikbaar is nie. Dit is die oordeel van die voorgenome lede dat daar nie op hierdie stadium onnodig verhoogde heffings na die inwoners van Orania deurgegee moet word nie. Vir hierdie rede is daar besluit om Orania Regspleging tot voordeel van die gemeenskap organies en met beskikbare kapasiteit verder uit te bou.
Die oogmerk is, waar die nodige hulpbronne dit toelaat, om Orania Regspleging as ’n eie vereniging te vestig.
In die proses om Orania Regspleging verder uit te bou, word daar ook na die moontlike aanstelling van ’n besoldigde voorsittende beampte gekyk, die administratiewe stelsels in die verbetering van dienslewering word verder uitgebou en die omvang van dienste aan Orania word verder uitgebou.