Gereelde vrae

Wie is die voorsitter van die Orania Regsraad?

Die voorsitter van die Orania Regsraad is mnr. Abraham van Zyl wat oor baie jare heen by Orania Regspleging betrokke is. Hy is ook een van VKN Boerdery en Ontwikkeling (Edms.) Bpk.; ’n grondentiteit van Orania, se verteenwoordigers op die Regsraad. Die Regsraad is ’n komitee saamgestel vanuit die grondentiteite en wat oor Regspleging toesig hou.

Die Hoof van die Orania Regspaneel is mnr. Willem Westraad en wat in sy rol deur ds. Sarel Roets bygestaan word. Ingevolge Orania se Dissiplinêre Kode is die Hoof van die Regspaneel onder andere verantwoordelik om die panele vir dissiplinêre aangeleenthede saam te stel terwyl hy ook simbolies as die hoof van die regsprekende gesag in Orania dien.

Die aard van Orania Regspleging se diens aan die gemeenskap, is om vanuit ’n neutrale posisie inwoners wat in geskille betrokke is by te staan. Hiervoor word mediasies gefasiliteer en moet personeel derhalwe nie aan die onderskeie partye regsadvies voorsien nie. Dit kan wel gebeur dat ’n algemene regsbeginsel uitgelig word, maar word dit vermy om inwoners van regsadvies te voorsien soos wat ’n prokureur sou doen. Die kantoor word gereeld om regsadvies genader, maar is die kantoor nie ’n regsfirma wat sodanig advies aan individue kan gee nie.

’n Suksesvolle mediasie hang van die ingesteldheid van die partye daartoe af. Indien hul bereid is om ’n oplossing te bereik, is die mediasie meestal suksesvol. Indien een of beide van die partye nie die regte ingesteldheid het nie, kan die mediasie misluk. In Orania is ons egter bevoorreg dat daar gewoonlik meer as 90% van mediasies suksesvol afgehandel word. Dit spreek van ons inwoners se ingesteldheid om oplossing gedrewe te wees.

’n Mediasie is soos ’n gesprek met die bystand van ’n bemiddelaar met die oogmerk om ’n geskil by te lê, maar bly in wese ’n gesprek. Die bemiddelaar maak nie ’n bevel of ’n toekenning nie. Die bemiddelaar poog wel om ’n skikking tussen die die partye te bewerkstellig. Indien ’n mediasie onsuksesvol is, kan daar nie teen sodanige uitkoms geappelleer word nie. Dit is dan nodig om die geskil verder te neem deur dit op arbitrasie te neem of met siviele verrigtinge in die hof voort te gaan.

’n Mediasie wat deur die kantoor bestuur word kos (vir 2026) Φ 300.00, met ’n verdere bedrag van Φ 160.00 waar ’n formele mediasie deur ’n mediator gefasiliteer moet word. Hierdie fooi is wesenlik minder as wat dit sou gekos het indien van regsfirmas se dienste gebruik gemaak moes word en is dit ’n manier hoe die gemeenskap ’n voordeel ontvang wat in geen ander dorp op dieselfde vlak en omvang moontlik is nie. Die fooie vir mediasies word jaarliks hersien en is dit raadsaam om by die Kantoor vir Regspleging van die korrekte bedrag seker te maak.

Orania het inderdaad maar ’n fraksie van die reëls en burokrasie wat op die meeste ander plekke teenwoordig is, maar is daar ’n goeie rede hiervoor. Orania Aandeleblok (RF) (Edms.) Bpk. wat die dorpsgebied dien se benadering is een waar die maak van reëls en die skep van burokrasie so vêr as moontlik vermy moet word. Vryheid beteken nie om in eiegeregtigheid te wil maak wat die mens goeddink nie, maar om binne die Skeppingsorde na die wil van God te soek. Prakties hou dit vir ons die taak in om elkeen self verantwoordelikheid op te neem en nie ons verantwoordelikhede aan mekaar aan ’n owerheid te delegeer nie. Lees in hierdie verband gerus die gedeelte onder “Begronding”. Reëls word derhalwe eerder uitgereik waar omstandighede dit noodsaak en dit tot die algemene voordeel van die meerderheid van die gemeenskap strek.